The people you love...
Ek het hierdie week 'n liedjie op repeat gehad. Alan Jackson se The Older I Get. My liewe Deddie het dit aangestuur (met 'n grap oor hoe mens se bene en ledemate jou verraai namate jy ouer word!)
Die versreël wat ek oor en oor en oor saamgesing het, sê: "It's the people you love, not the money and stuff."
My meisiekind het vanoggend vroeg weer gevra wat die beste deel van my dag, elke dag is. En my antwoord was, soos altyd, hulle. My hartsmense. My familie. Die oopmaak van my oë in die oggend en te sien dat ons almal nóg 'n dag saam gegun is. Almal het weer wakker geword. Dis nog 'n dag van saam, in mekaar se teenwoordigheid, dié lewe te leef. Die dankbaarheid dáároor.
As die koskaste yl is, het jy nóg jou mensies om jou. As jou beursie plat is, het jy nóg jou mensies by jou. As die lewe druk en jou laste swaar weeg, het jy nóg jou mensies rondom jou.
Die lewe is die ene stuff. 'n Beter dit en 'n beter dat. Dis die rand teen die doller en die doller teen die pond in 'n vuisgeveg om "stuff" te kan bekostig. Maar die werklike skat, the OG treasure, is nie wat jy het nie, maar wie jy om jou het.
Gister het iemand se geliefde nooit wakker geword nie. Laas nag moes iemand hul hartsmens groet. 'n Sitplek is leeg aan iemand se etenstafel en 'n stem het stilgeword in 'n ander huis se gange. Maar as jy vanoggend nog dié vir wie jy lief is, om jou het, weet dit: you are richer than most in this world.
So gee drukkies. Plak soene op wange en lippe. Gesels tot laatnag en wees bly oor mekaar in die oggend. Deel jou tjoklits. Maak vir hulle tee. Lag hard en lelik oor simpel goed saam. Wees present. Wees laf. Maak tyd vir mekaar. Trap diep spore in hul harte. We never know when these moments will be the last...
Pas jouself en jou mensies mooi op. "En mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en almal..." 1 Tessalonisense 3 vers 12.
Liefde,
Alvené
Lief jou my hartsmens
ReplyDeleteLove you too, my Roos!
Delete100% indeed my liefste Alvené. Dankie Vir die Here Vir die Menzies in my Lewe. Dankie Vir Mensies Soos JY. Stay blessed, Love from me xx
ReplyDelete❤️
Delete