Ek wou, maar ek het nie...

As daar nou één mens is wat my broek laat bewe, is dit die tandarts! Ek moes onlangs juis in haar stoel loop sit. Spiere styf. Tjoepstil. Min lus. Maar dis nou maar 'n ding wat ek móés doen. 

Ons sê altyd vir die kinders - as hulle kla dat hulle nie lus is nie - too bad! Daar sal sommer nog baie dinge in dié lewe wees waarvoor jy nie lus is nie, maar móét doen. My ma het dit sommer baie vir my gesê!

Soos opstaan vir werk (en soms kerk!) - veral as jou bed se hitte jou terughou. Soos vandag. Soos kombuis skoonmaak op Sondae wanneer daar groot etes met sielskos en baie mense was. Soos leer vir toetse. Maar veral vir die goed waartoe jy commit het. My ma het vir ek en Boetie geleer dat jou ja, ja is. As jy commit het, moet jy jou commitment nakom. Of jy nou lus is of nie. 

Toe 'n vriend die ander dag sê: "Ek wou..." toe weet ek "...maar..." is gou op sy hakke. Ek't sommer gedink aan al die dinge wat ons as mens wóú doen, maar nie hét nie. En die rede waarom ons "ek wil" in 'n "ek wou" verander het, het 99,9% te doen met óf ons lus was of nie...

Lus-wees, my mens, kom en gaan. Soos die wind en die reën en die son. As ons ons planne, ons wense, ons drome, ons aksies daarop bou, sal dit wegwaai. Droograak. Ophou skyn. Dán het tyd gestap. Sommer tot voor jou deur. En spyt staan op jou stoep. Te laat - soos altyd.

Mens kom soms weg met die klein dingetjies waarvoor jy nie lus was nie. Die dinge wat nie regtig jou koers bepaal of verander nie. Maar daar is dié dinge wat wel fondasies kan skud...

Soos die oproep wat jy wóú maak, maar dis nou te laat...
Soos die gesprek wat jy wóú hê, maar nie meer kan nie...
Soos die geleentheid wat jy wóú aangryp, maar nie lus was vir die moeite nie...
Soos die afspraak wat jy wóú nakom, maar nie tyd voor kon maak nie...
Soos dié ding wat jy wóú quit, maar nie daarsonder wou gaan nie...
Soos die dag toe jy wóú verander, en nou deur spyt se lense tel hoeveel tyd alreeds verby is...

Oppas dat niks-lus jou keer van beter lewe, beter wees en beter doen Want 'n ek-wou, my liefste mens, word 'n het-nooit. En 'n het-nooit hou jou agter... Of soos met Jona en die walvis, it prolongs the inevitable. En moet jy later tóg dié ding doen waarvoor jy vroeër nie lus was nie...

En tyd, só kosbaar, verkwis...

Liefde altyd,

Alvené











Comments

Popular Posts