Augustus...

Dis crazy om te dink dat dit al Augustus is. Hoofstuk 9 van Jaarboek ’25. Daar’s nog nét drie hoofstukke oor voor ‘n nuwe jaarkalender ons in die oë kyk. En al wat ek vandag kan sê, liewe mens, is…

I hope you’re happy

Ek hoop regtig op hierdie vierde dag van Augustus dat al die keuses wat jy tot dusver gemaak het, vir jou diep geluk en oneindigende vreugde gebring het.

Dat jy deur die snaakse ekonomie en al die swaarkry en seerkry van dié wêreld, somehow aan jou joy kon vasklou.

Ek hoop dat jy onthou het om te glimlag. En om lelik te lag. Hard te lag tot jou maag pyn – asof lag al is wat in daardie oomblik saakgemaak het.

Ek hoop jy was omring met goeie mense. Kalanderboom-mense. Met sterk wortels en breë takke wat vir jou lafenis kon bring toe die son skroei. En dat jy ‘n kalander vir ander was.

Ek hoop dat jy ook hierdie Augustus kan sê dat die vreugde van die Here die fontein van alle lewe vir jou is. Dat jou liefde en wortels in Hom ‘n Habukkuk 3 tipe liefde is. ‘n “Al sou die vyeboom nie bot nie…” tipe liefde.

Ek hoop Augustus is vir jou ook ‘n maand van voorraadopname. Of stocktaking, soos ons dit in Engels ken. En dat jy jou seëninge tel. Dat jou lys van dinge waaroor jy dankbaar is, langer is as jou klagtes.

En dat jy weet jy is genoeg. Genoeg mens. Met genoeg moed en durf om hierdie ou lewe goed te leef.

Ek hoop daar is pleisters vir jou einas en balsem vir jou hart.  

Maar ek hoop veral dat jy sal vasklou aan die wete dat die genade van die Here vir jóú, my mens, genoeg is…

Baie liefde,

Alvené



Comments

Popular Posts