Toe ek kón, hét ek...

Ek is mál oor kerse! 'n Goeie vriendin en kollega het my eendag dít hoor sê en vir my verjaarsdag die ander dag die oulikste tulpboom, swart tee en kardemom kersie geskenk gegee. En ek steek hom élke dag aan! 

Behalwe dat ek van lekker geure hou, vrek ek oor die reuk van swael as ek die vuurhoutjie aansteek. En nóg meer wanneer ek die vlammetjie na die pit bring en dít wat dood was, lewe sien kry. 

Dit laat my aan my ouma dink. In die dae voor elektrisiteit op Kruisfontein, toe kerse in blakers en paraffienlampe ál lig was. Ek kon vir ure net by my ouma sit en die flikkerende kers dophou. Ek was klein, maar ek onthou 'n gevoel van hoop en tevredenheid wat oor my gespoel het. Tóé kon ek dit nie verwoord nie. Maar noudat ek groot is, weet ek wat daai meisiemens met die stomp beentjies gevoel het. 

My ouma was 'n merkwaardige vrou. Sterk in geloof, onwrikbaar in haar beginsels en onbeweegbaar in haar liefde. Sy was vindingryk en het haar uitgeleef in die kerk. Toe kom 'n reeks beroertes en dié onafhanklike, nothing is too much vrou, se lewe verander onherroeplik. 

Vandag word ek herinner aan hoe verganklik die lewe en die mens is. Dat die liggaam kan swak word en jou dae - jou sit, jou loop, jou lê en staan - kan verander. In 'n oogwink, eintlik. 

Hoe maklik sê ons vir mekaar hoe kort die lewe is. 'n Cliché, soms. Want sodra ons dit gesê en acknowledge het, ploeter ons dikwels op dieselfde trant aan. Die trant van uitstel en kwaad loop. Die trant van val en bly lê. Die trant van "die tyd vlieg vinnig"... en skaamword van hoe min ons eintlik in dié tyd gedoen het. En so maklik word terwyl-ek-nog-kan, 'n as-ek-maar-net. En 'n as-ek-maar-net, my liewe mens, is 'n gat wat ons nooit sal kan vul nie. 

Terwyl die liggaam nog kán, laat ons. Terwyl die bene nog wíl, laat dit. Terwyl die tyd nog stap, gebruik dit. Leef. Leef werklik. Maak reg dit wat skeef is. Bou aan dit wat moet staan. Skaaf aan plekkies wat skaaf kort. Gee. Doen. Wees. Wíl. 

Mens se omstandighede kan in 'n oogwink verander. En 'n as-ek-maar-net, is dalk 'n kersflikker weg. Maar wees die mens wat eendag kan sê... toe ek kón, hét ek. 

Liefde, 
Alvené 




Comments

Post a Comment

Popular Posts