Spanwerk...
Ek hou van spanspelers. Nie dié ou of meisie in die groep agter wie ander skuil omdat hulle weet dat hy of sy die swaarste aan die wa sal trek, en julle dit só deur die drif sal kry nie.
Ek hou van mense wat hulle deel doen. Hul kant bring. Ek hou daarvan wanneer ons saamsit en besluit wat, wie se verantwoordelikheid is. En elkeen dan dít doen wat hulle moet doen. Dat hulle dit goed doen. I love how you take all the pieces and see how a plan comes together.
Ek sal in my kleinigheid die weë en denke van die Here nooit ten volle verstaan nie. Maar ek verbeel my dat spanspelers vir Hom ook vreugde bring. In 1 Korinthiërs 3 vers 6 skryf Paulus: "Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei." In vers 8 sê Hy: "Hy wat plant, en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy arbeid ontvang."
Só is dit in die lewe ook, my mens. Ons elkeen het ons eie gawes en talente, ons is geroep vir verskillende bedienings. Sommige is op die preekstoel. Ander in die hospitale. Sommige op die kerkraad. Ander in skole. Sommige kook. Ander maak musiek. Een in die tuin, 'n ander op kantoor. Een breek brood, 'n ander troos. Een het geplant. 'n Ander het natgemaak, maar die Here laat groei.
Niemand se deel is groter, belangriker as die ander s'n nie. Niemand kan krediet neem vir die oes nie. In 'n span, is daar nêrens plek vir 'n enkele ek nie...slegs die ek se deel tesame met alle ekke, wat eintlik 'n ons maak. En selfs dán is dit nie die óns wat die eer kry nie.
Jou loon sal jy ontvang volgens jou arbeid, volgens jou hart. Mag jou hart dít waartoe hy bestem en geroep is, goed doen. Mag jy nooit jou deel in dié wêreld met 'n ander se werke vergelyk nie. Dit nooit te min, te gering ag nie. Mag jy jou bydrae nooit méér ag as jou buurman, kollega, vriend, vyand of broer nie. En mag jy onthou dat ons almal medewerkers van God, die akker van God is. En dat ons volgens Sy genade plant en natmaak...tot wanneer Hy oes.
Baie liefde,
Alvené
Amen
ReplyDelete