Ware vriendskap
Ware vriende is deesdae só skaars dat jy hulle eintlik op jou een hand kan tel. In die meeste gevalle, sal daar waarskynlik nog vingers oorbly.
As kinders word ons geleer hoe om mooi met mekaar te speel. As tieners, hoe om die koring van die kaf te skei. As grootmense, dat vriende kom en gaan. Soos seisoene. En dat min vriendskappe jou ‘n hele leeftyd lank hou.
Kom ons doen voorraadopname, liewe mens. Nie van hoeveel vriende jy het nie, maar of jý ‘n ware vriend is.
Ware vriende deel in mekaar se lief en leed. Só opreg dat jou vreugde en verlies soos hul eie voel, en hulle dra saam aan die las – dikwels in gebed. Ware vriende bou mekaar op, inspireer mekaar, moedig mekaar aan om beter te doen. Beter te wees. Sonder dat hulle jou ooit laat voel dat jou jy-wees nie genoeg is nie.
Maar my gunsteling eienskap van ‘n ware vriend, is eerlikheid. Hoe ‘n vriend áltyd vir jou die waarheid vertel. Kaalkop, sonder om lelik te wees. Reguit, maar nie sonder deernis nie. Die tipe eerlikheid wat jou die verkeerde pad sien stap en jou onmiddelik vermaan. Die soort eerlikheid wat jou na goeie, beter besluite lei. Die kaliber eerlikheid wat nie bang is om jou op jou laagste te sien, jou uit te daag as jou moed bewe; en wat nie saam met jou lag as jy iemand te nakom nie. Inteendeel. Dié eerlikheid wat sê: ek het jou lief, maar wat jy nóú doen, is nie reg nie...sonder om boek te hou van jou foute.
Wees só ‘n vriend. Want vriendskap is so kosbaar soos die skatte in die hemel. Dit slyp jou, sê Spreuke. Dis ‘n rigtingwyser wanneer jou maat sig verloor het van die pad. Soos broodkorrels. En goeie koffie op ‘n koue dag. Soos huis wanneer jy nêrens anders het om na te gaan nie. Soos jou gunstelingkos, en die bitter medisyne wanneer jou hart en siel dít kort.
Wees só ‘n vriend. Die opregte, eerlike soort. Die wêreld sou kon doen met 'n bietjie meer hiervan.
Liefde,
Alvené
Die waarde van n ware vriendin soos jy is kosbaar. Love you
ReplyDeleteje t'aime, mon ami :-)
Deletedankie Alf. ek skiet ver te kort
ReplyDelete