Padkos...
As jy die GPS oopmaak wanneer jy rigting soek, vra dit onmiddelik vir jou ligging. Of location, soos ons dit in Engels ken.
Nie waar jy dínk jy is nie. Nie waar jy graag wíl wees nie. Nie waar jy voorgee om te wees nie. Maar waar jy ís. Net dán kan dit die roetes en paaie naby jou sif om jou op koers te kry.
As die Here die GPS is en Hy vandag jou location vra - soos Hy vir Adam en Eva in die tuin van Eden gevra het: mens, waar is jy? Wat sal jy sê?
Ek glo die vraag gaan nie juis oor jou fisiese ligging nie. Inteendeel. Of jy nou in Londen of Khayalitsha antwoord gee, maak nie te veel saak nie. Maar dit maak wel saak waar jou kop, hart en siel is.
Kruip jy weg agter die rots van onbevoegdheid? Te oorweldig deur die wete dat jy swak is dat jy sommer net daar bly sit. Oë toe. En hoop vir die beste?
Skuil jy onder die kombers van skaamkry? Oor jou verlede en dít wat jy was? Te angsbevange om die kombers van jouself af te smyt, want die verlede is ten minste bekend?
Het jy tentpent ingekap by Mara? Mara met sy bitter, bitter water; waar bitter herinneringe jou gevange hou? Self nog te bitter om vorentoe te beweeg?
Is angs en depressie jou plekspyker? Onvergewensgesindheid jou huis? Kamp jy by spyt en verwyt? Of is lelik-wees-vallei jou booking of choice?
Bou ongeloof jou mure? Is luiheid jou dak? Jaloesie jou kuierplek? Of hang jy uit tussen vergelyk-myself-met-ander en haar besties?
Dalk sit jy nog by seer. By ek-is-nie-genoeg-nie. By ver-van-jou-Maker. Of verknog-aan-wêreldsdinge.
Ek weet nie waar jy is nie. My eie plekspykers refresh ek self gereeld. Ek gee net padkos. Iets om aan te kou (en te herkou as ons moet!).
Maar waar jy jou ookal bevind, hoop ek jy sal kan sê: "Naby U, Here." Of ten minste: "Oppad."
Liefde,
Alvené
Baie dankie
ReplyDeleteGroot plesier :-)
DeleteDankie sis! Ek waardeer jou lewe!
ReplyDelete