'n Beter jy...

Afleer. Nou nie Afrikaans se sagste woord op die oor nie, maar ‘n woord waarop ons beslis meer moet ag slaan.

Die Engelse praat van unlearning. Sy tweelingboetie is: unbecoming. To unbecome who or what you were.

Ek glo die mens word rein gebore. In liefde volmaak. Dan tree ons op die aarde en leer. Ons leer wie ons is, hoe ons werk, hoe ander werk en ons leer dikwels ook slegte gewoontes en maniere langs die pad aan.

Sommige leer in veilige huishoudings en gemeenskappe hoe om hul lewensskepe goed – met goeie waardes en beginsels – te vaar. Sommige se voorbeelde van hoe om op dié lewenssee te reis, is nie altyd van die bestes, wysstes nie. Jou menswees, veral as kind, word tog meestal gevorm deur die voorbeeld van mens om jou. En natuurlik, mens se eie lewenservaringe. Dié goed vorm jou lewensuitkyk. En ook jou lewensbenadering. En as jy heeltyd in oorlewings-mode is, doen jy wat jy móét om te oorleef.

Maar een of ander tyd – as jou aanvanklike wêreld nie goeie voorbeelde van mens gehad het nie – ontmoet jy mense wat anders, mooier van hart, reiner van siel, dapperder van daad en draers van goeie beginsels en waardes is. As jy húlle eers teëgekom het, is daar ‘n stemmetjie, ‘n dieper wete in jou wat in jou onderbewussyn sê: this way is better; this way is right... Dán, my mens, het jy eintlik glad nie meer ‘n verskoning nie. Wat jy wel het, is ‘n keuse.

‘n Keuse tussen slegte gewoontes afleer, en beter gewoontes kweek. Jy kies dan tussen ‘n beter mens wórd, en die ou mens vaarwel te groet. In die woorde van skrywer Maya Angelou: “Do the best you can until you know better. Then when you know better, you do better.”

Jy kan soos Dawid in Psalm 51 vra dat die Here ‘n rein hart in jou moet skep. Maar jy moet dít weet: die Here skep dit nie net soos ‘n towenaar ‘n haas uit ‘n hoed nie. Hy toets jou. Hy kyk hoe ernstig jy oor jou versoek is. En dan skep Hy geleenthede waarin jy kan ontwikkel en groei in dié mens wat jy vra om te wees.

Soos ‘n pa wat sy kind leer kolf. Die balle bly kom, totdat jy die houe regkry. Oor en oor en oor. Jy dink agterna nie meer daaroor nie, hoef nie meer so hárd te konsentreer om’n goeie mens met ‘n goeie uitkyk en benadering te wees nie. Dit word later so natuurlik soos ‘n ses-slaan vir ‘n bobaas-kolwer – al lyk die balle hóé wat jou kant toe kom.

Choose a better you. Every day. En ‘n beter jy, sal opdaag... as jý wil.

Liefde,

Alvené         

Comments

Popular Posts