Daar waar jou skat is, sal jou hart ook wees...

Ek het verlede week iets baie kosbaars verloor. ‘n Juweliersstuk. Een met sóveel betekenis, herinnering, simboliek. My familie, my kollegas en vriende het almal hoog en laag saam met my gesoek. Tevergeefs.

Ek was vir ‘n oomblik hartseer. Oor die sentimentele waarde daarvan. Maar die verlies van dié stukkie kosbaarheid kon nie my vreugde steel nie.

Een van my kollegas het gisteroggend juis weer gevra of ek dit gevind het. Ek het met die breedste glimlag op my gesig gesê: “Nee, Meneer.” Hy was verbaas. Nie omdat ek dit steeds nie gevind het nie, maar oor die verskriklike groot glimlag op my gesig terwyl ek dit sê.

My antwoord aan hom was eenvoudig: “As ek by die poorte van die hemel aankom, Meneer, gaan Petrus nie vra waar my juwele is nie.” Ons het gelag, maar ons albei het geweet hoe waar dit is.

Daarmee sê ek nie dat jy nie jou goed moet oppas nie. Maar jou hart, my mens, kan nooit aan jou aardse besittings gebind wees as jy die Here liefhet en volg nie. Ek het al baie dinge in die lewe verloor. ‘n Huis. ‘n Kar. Klere. Aardse, áárdse dinge wat absoluut niks beteken die dag wanneer jy sterf nie. Mattheus 6 vermaan so mooi: “Moenie vir julle skatte op die aarde bymekaar maak waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie...” Hy sê maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, want daar waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Skep moed, my mens. Juwele is maar net juwele. Maar jou hart en wat daarin omgaan...dís jou ware skat.  

Liefde,

Alvené

Comments

Popular Posts