Beginselvas...
My ouers was nooit ryk nie. Hulle stam ook nie uit families waar geld volop was nie. My ouma – wie se kerkbaadjies julle my soms sien dra – was ‘n huisvrou. En my oupa – die slimste mens nóg – het vir die railway-stasie gewerk. Maar dié twee mense was skatryk aan goeie beginsels en waardes.
Die soort wat hulle só by hul kinders, en later hul kinders se kinders, ingeboesem het, dat jy skuldig voel as jy daarvan afwyk. Of selfs net daaraan dínk om die (trein)spoor byster te raak. Die soort beginsels wat op Bybelse riglyne geskoei is. Die goed waarvan rigtingwysers gemaak word. The good stuff. Tydloos. Ewig-relevant. Dikwels die goed wat deesdae as “oumode” gesien word.
Goed soos respek. Vir jouself en jou medemens; jou omgewing. Goed soos nederigheid. Om met jou voete stewig op die aarde te bly staan en nooit te dink jy is beter as, of superieur - soos die Fransman sê - teenoor ander nie. Goed soos eerlikheid. Om jou brood op ‘n eerlike wyse te verdien en eerlik teenoor jouself en ander te wees. Mededeelsaamheid. Ons is geleer om die kleinste ou tjoklit tussen ‘n dosyn van ons te deel. Netheid was netso hoog op die ranglys. Langs vriendelikheid en dankbaarheid. Trots en harde werk was baas. Om jou heel beste te gee en trots daarop te wees. To have pride in your uniform, your work. To do things right or to not do it at all.
Die wêreld het oor baie, baie jare baie verander. Gesprekke oor hóé dinge verander het, is volop. Die ouer garde vergelyk gereeld toeka se dae met nou. En selfs my skoolkinders rol hul oë as ek begin met: toe ék ‘n kind was...
Een van my kloggoed – ‘n gawe, liewe klong – het juis die ander dag gesê: “Respectfully, ma’am. Things aren’t the same.” Hy was reg. En ek dink nie dat ons die tye só veel met mekaar moet vergelyk dat ons sig verloor van die nóú en wat die nóú benodig nie. Ek hoef nie vandag te diep te krap vir voorbeelde van dinge wat anders is as toe ons kinders was, of ons ouers en ons ouers en hul ouers se ouers nog geleef het nie. Ons almal weet goed hoe die lewe – soms vir die beste, soms vir die slegste – verander het.
Dis moeilik om elke dag jou skedel óm ‘n veranderde wêreld, ‘n veranderende samelewing te draai. Wat ook ‘n tamalêtjie is, is hoe om jouself en jou kinders, jou broers- en susterskinders, die kinders by die kerk en die gemeenskap déúr die tamalêtjie te navigate.
Die antwoord is eenvoudig, sou ek sê: stick to the basics. Die ander goed sal hulself uitwerk. Hou by asseblief en dankie. By groet en respek. By hard werk en verantwoordelikheid neem. Maak nederigheid die vloer en dankbaarheid jou kussing. Maak goeie waardes en beginsels nóg die antwoord op alles; die padkaart. Dié goed bou ons as mens. Karakter en persoonlikheid word hierdeur gevorm. Op die langpad is dit juis dié ou dinge, my mens, wat ons maak of breek. It’s the stuff that real legends are made of.
Niemand gaan onthou of jy die beste foon of tekkies gehad het nie. Niemand gaan praat oor wie die meeste smakies (likes) op die socials gekry het nie. Die duurste van alles, die heeltydse vergelykery; en veral die ... but everyone is doing it en I have to follow this trend... is 'n lokval so diep soos die grotte van Mampoer. En soos Prediker sê: bloot ‘n gejaag na wind.
Kom ons maak van ons kinders ware legends. Rooted. Grounded. Geanker in die dinge wat werklik tel. Kom óns wees beter. Beginselvas. Kom ons maak goeie waardes die G.O.A.T wat dit is. Want terwyl die wêreld die heeltyd verander, bly dié basiese, old school perde waarlik The greatest of all time...
Liefde,
Alvené
Comments
Post a Comment