As jy sukkel om te bid...
Ek kon vanoggend nie bid nie. Die woorde was minder as skaars en my kinders het nie die daaglikse Bybelversie voor skool gekry nie. In my hart hoop ek dat hulle aan dié versies van vroeër hierdie week, sal kou.
Ek kon nie
bid nie. Nie omdat ek hartseer is of moeilikheid het nie; nie omdat ek met iets
worstel of omdat ek vir iemand, of selfs vir die Here, kwaad is nie. Ek kon nie
bid nie, want ek was moeg...
Só moeg dat my
bene soos lood gevoel het en my hande byna alles misgevat het. Só moeg dat my gedagtes
en my woorde – wat gewoonlik so lekker gesels – nie hul pad na mekaar kon vind
nie. En ek besluit toe om net te sit. Om stil te sit. En stil te bly. En stil
te wees. En in my stilte te hoop dat die Here my hart en my siel en my kop sal
lees.
En weet hoe
dankbaar ek op hierdie Vrydag is. Vir alles. Vir die baie en die min. Vir die
niks en die oorvloed. Vir die chaos en die vrede. Vir die oomblik. Vir die dag.
Vir die kans om te... Om te wees. Om
te seën. Om te leer. Om te help. Vir die beantwoorde gebede. Vir die behoud.
Vir die wete dat God steeds God is. In woord en gebed. En in stilte.
Ons almal
raak soms moeg. Soms is jou lyf sommer net gedaan en jou kop suf. God weet dit.
En as jy moeg is soos ek en sukkel om in woorde te bid – wees net stil; stil in
Sy grootheid. Stil in Sy liefde. Stil in Sy goedheid én Sy Godheid.
God is ‘n God van begrip. En soms, my mens, ís stilte die gebed. Dis oukei...
Ekstra Liefde Vir Vandag,
Alvené
dankie Alf.
ReplyDeleteEnige tyd!
Delete