Werk nóg asof jy vir die Here werk...

Ek weet nie watter werk jy doen nie. En óf jy werk nie. Ek weet nie of jy dit wat jy doen, geniet nie. En of jou dae van arbeid 'n bitterheid op jou krop laat nie. Ek weet nie of jy vervulling uit jou daaglikse take kry nie. En of jy elke oomblik van waar jy jou bevind, haat nie.

Maar ek weet dít: "Wat jy ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat hy belowe het." - Kolossense 3 vers 23.

Mens dink soms dat jy slegs daardie ewige beloning werd is, as jy op 'n geestelike vlak tot diens is. Maar ek belowe jou: die Here neem álles wat jy doen, in ag.

Al gee die oom en die tannie by jou werk jou al jou dae – werk nóg asof jy vir die Here werk. Al sit jy en jou kollega nie langs een vuur nie – werk nóg asof jy vir die Here werk. Al werk jou spanmaats op jou laaste senuwee – werk nóg asof jy vir die Here werk. Al voel jy asof jy finansieel baie meer werd is as dít wat jy tans kry – werk nóg asof jy vir die Here werk. 

Want jy sien, alles wat ter eer van jou Maker gedoen word, dra vrug: 'n tevredenheid; 'n dieper beloning as wat die mens ooit kan bied. Alles anders is maar 'n gejaag na wind... en 'n gejaag na wind, lei tot niks.

Liefde,

Alvené


Comments

  1. Ek dink dit geld vir daaglikse werk en werk vir Christus. Ons vergeet vir wie ons dit doen. Dankie dat jy my herinner....

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular Posts