Seisoene wissel...
Dis vir my die mooiste mooi wanneer mens Wynberg-heuwel afry en die oranje blare aan die populierbome sien hang. Wat ‘n kleurvolle herinnering aan herfs – my gunstelingseisoen – wat nog rondhang. Dít terwyl die oggende al donkerder en kouer word – alles tekens van die winter wat kom. Dán staan ons geliefde populiere kaal teen die M3 en wag vir die lente wat nuwe bloeisels bring. Om volgende jaar weer te verkleur en die volgende winter, kaaltak op die volgende lente en die volgende somer te wag...
Só verkleur ons, verloor ons
blare, blom ons weer as mens van een lewensseisoen na die ander. Elkeen ‘n kentering
van ons menswees. ‘n Bewys dat ons gemaak is om te verander, te groei, te
verloor en weer by te kry. ‘n Teken dat alles, soos Prediker 3 herinner, sy
bepaalde tyd het.
Moenie té gefrustreerd raak as
die winter in jou lewe te koud is nie – dis gou weer lente. Moenie te bang raak
as dit voel asof jou lewensdae nie warmer word nie, al is dit al wettiglik
somer – die son vat soms sy tyd om te ontdooi. Moenie te gemaklik raak as jou
lente perfek bloei nie, herfs se briesie waai soms koud. En moenie te lank aan
die somer, óf die winter, klou nie... seisoene wissel. Dis wat seisoene doen.
En jy, my mens, is die mooiste seisoen,
elke seisoen – gemaak om te wissel. Te verander. Te groei. Dis wat mense doen.
Liefde,
Alvené
Foto: T. Siebritz
Comments
Post a Comment