Mooi loop...
Verlies. Deur die
woordeboek omskryf as iets wat verloor word of verlore is. Om selfs net die
woord te sê, laat mens seerkry. Iets wat was, is nou nie meer nie. Iemand wat
was, is weg.
Verlies kom
dikwels met ‘n gevoel van verlorendheid. ‘n Hartseer so diep dat jy vir ‘n ruk
nie mens voel nie. Vir ‘n tydjie, kan dit jou laat voel asof jy maar ‘n skaduwee
van jou ou self is. Vir dae-lank is jy oukei, en op ‘n dag bars die huil weer soos
‘n damwal wat breek, in jou oop.
My ma sê altyd
dat die dood die één ding is waaraan mens net nooit heeltemal gewoond raak nie.
Ek stem met haar saam. Ons weet tog dat selfs die dood
oorwin is, maar as mens, doodgewone mens, kry ons harte dikwels swaar.
Vir my eie swaar
dae, toe verlies soos ‘n berg op my skouers kom sit het, was dit Ram Dass se sêding:
We’re all just walking each other home,
wat my kruk was. Die skielike onthou dat almal maar vir ‘n rukkie aan mekaar
geleen is. Dat jy juis dáárom moet seker maak dat jy so ver as menslik
moontlik, die pad mooi met mekaar stap.
Dat ons tot op ‘n punt saamloop en dan iewers langs dié weg mekaar moet groet.
Vir elke skriflesing
oor die dood en verlies, belowe die Here vertroosting. Maar die boodskap lê nóg
vir my in lewe. Levitikus 19 én Mattheus 22 sê dat jy jou naaste soos jouself moet liefhê. En as jy iemand liefhet, wil jy hê
dat hulle moet mooi loop, oukei moet wees. Die mooi daarvan is dat jy dan – terwyl
hulle nog lewe – só mooi met hulle saamstap, dat jy selfs in die oomblik van
verlies ‘n tevredenheid in jou voel. You
did not only walk them home, but you walked them home well.
Mag elke hart
gevul met verlies, iewers langs die pad vrede vind. En mag dié van ons wie se
pad nog wandel, onthou om mooi te loop. Alleen óf langs mekaar.
Liefde,
Alvené
Comments
Post a Comment