Jou rusplek...
Gister was Hemelvaartdag. ‘n Gewone werksdag in my wêreld, maar die dominee het darem kom kuier en tyd in gebed met ons spandeer. Die weer was guur, yskoud. Maar my hart was knus en warm.
Want ek het
onthou dat Jesus by Betanië, volgens die skrifte, opgevaar het. Vir sommige
maar net ‘n ou dorpie in Jerusalem, maar vir Jesus ‘n veilige hawe; ‘n plek van
rus en troos; iewers bekend en knus, waar sy geliefdes – sy vriende, Martha,
Maria Magdalena, Lazarus – was. Waar Hy
ruimte gehad het om asem te skep. En ek het gewonder...waar en wie is jóú
Betanië?
Dis so maklik
om te sê: “Ek het niemand nodig nie.” Maar dit, ou vriend, is die grootste
leuen waarmee ons saamstap. Jy is nie Jesus nie en selfs Jesus het sy mense en
die plek waar Hy vir ‘n oomblik kon asemskep, nodig gehad. Tot op sy bitter
laaste oomblik op dié aarde.
Jou Betanië
is nie die plek en mense waar jy maskers moet dra nie. Of te bang moet wees, om
jou ware jý te wees nie. Jou Betanië is beslis nie die mense oor wie se liefde
en omgee jy hoef te twyfel nie. Óf jou mooiweersvriende nie. Betanië is ‘n plek
van sielsrus en ware troos. A home away
from home. Waar jy vir ‘n oomblik op die pad kan asemskep, gevoed word, jou
laste soos ‘n swaard neerlê voor jy dit weer optel en voortgaan. Jou Betanië is
altyd eerlik. Altyd liefdevol. Altyd wederkerig. En by Betanië word daar altyd Brood
gebreek. Geestelike, sielsvoedende, leersame, inspirerende, eerlike-mens-tot-mens
Brood.
By Betanië maak
jy jou beker leeg en laai jy weer jou lewensbattery voor jy voortreis. As jou battery
nie dáár gelaai word nie, is jy, my mens, dalk op die verkeerde plek...
Liefde,
Alvené
Comments
Post a Comment