Guts, murg en been...
Ek dink dit vat al jou guts, al jou murg en ál jou been om dié lewe te leef. Dis mooi, ja. Ek hoef net by my klaskamer uit te stap en my oë soos Dawid op te slaan na die berge; en aan Devil’s Peak se pragtige kontoere te kyk, om te weet: daar is soveel mooi hier, soveel om voor dankbaar te wees. Maar ek weet ook dat menswees nie elke dag maklik is nie.
Ek weet van dae
wanneer dit absoluut alles kos om uit die bed te klim. Ek weet van aande
wanneer jy met ‘n swaar gemoed aan die slaap raak en met oggendstond niks
ligter voel nie. Ek weet van dae wanneer dit al jou moed verg om ‘n glimlag oor
jou lippe te kry, want in dié lewe, my liewe mens, kry mens seer. In dié lewe
word jy uitgedaag, getoets, vertrap en verdruk. Jy word soos uitgekoude
Chappies eenkant gespoeg. Soms word jy verraai, verag, verstoot, verneder. Soms
het jy oorvloed, soms het jy niks. En partykeer lýk moed opgee na die enigste,
die makikste paadjie om te stap.
Ek hoop dat jy
nooit moed opgee nie. Dat jy in jou swaarkry sal onthou dat alles, soos Romeine
8 ons herinner, ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet. En ek hoop dat jy
God sal liefhet. Dat jy Hom regtig sal liefhet, ten spyte van hoe jy voel. Met
al jou guts. Al jou murg. En ál jou been.
Liefde,
Alvené
Comments
Post a Comment