Dis oukei om om te gee...

My Alex-kind vra die ander dag: “Waar is sy peetouers dan? Is daar niemand wat na hom kan kyk nie?” Dít oor hy bekommerd was oor ‘n ander seuntjie wat oënskynlik deur hel gaan...

Dit het my opnuut laat besef dat ons as mens eintlik van nature omgee-skepsels is. Sommige van ons het dit net iewers langs die pad vergeet…Dalk omdat ons self so oorweldig is deur ons eie sakke sout dat ons nie eintlik ruimte het om ander se laste te dra nie. Of dalk omdat iemand, iewers vir jou laat glo het dat die wêreld om jóú draai en jy só aan daardie gevoel gewoond geraak het, dat jy eintlik nou net selfsugtig is. Miskien het omgee jou seergemaak en is jou omgee-hart nou onder slot-en-grendel...

Maar as almal ophou omgee vir ander, wat word dan van dié wêreld? 

Vandag wil ek eintlik net vir jou sê: it’s okay to give a damn...

Dis oukei om te wonder of iemand geëet het, en jou kos met hulle te deel – dié tipe omgee sal altyd in die mode bly. 

Dis oukei om die hartseer in iemand raak te sien en ‘n drukkie, selfs ‘n tissue, aan te bied – mense het soms net ‘n bietjie troos nodig.

Dis nog oukei om te sê: ek weet jy trek swaar, ek dink aan jou! Of om die swaartrek raak te sien, en te help as jy kan – nie almal sal jou goedheid misbruik nie.

Dis oukei om na mense te luister; om hulle werklik raak te sien – die mens is gebou om te connect.

Dis oukei om te sê: “Ek kan jou wel nie help nie, maar ek kán vir jou bid.” En dan regtig, egtig te bid.

Die bediening van omgee, is ‘n waardige bediening soos enige ander! Eintlik meer so, want dis ‘n bediening wat sê: ek het oë, ore en ‘n hart vir my naaste. ‘n Bediening wat nie terugdeins as daar nood is nie. En beslis nie anderpad kyk as behoefte verbyloop nie.

Sommige kan behoefte fix en menigtes voer, maar jy hoef net jý te wees met die omgee in jou hart – moet nooit daai bietjie omgee gering skat nie, my mens. Dit kos net een vuurhoutjie, een liefdevolle strike...om 'n dag, 'n hart, 'n mens vir altyd op sy kop te draai  in the best way possible! Omgee vir omgee vir omgee...

Liefde,

Alvené

Comments

Popular Posts