Die anderkant van seer...

As niemand dit nog vir jou gesê het nie, wil ek graag vandag daai skoen dra: alles wat jou oorkom, bou jou karakter...as jy wil.

Mens vra so maklik: waarom gebeur dié ding met my? Of, wat het ek gedoen om dít te verdien? En selfbejammering, my mens, is ‘n slinkse klein slang wat jou só vinnig insluk dat mense anderpad kyk wanneer jy naderkom. Pity parties aren’t pretty.

Daarmee neem ek niks weg van mense se ervarings nie. Slegte goed gebeur soms. Johannes 16 sê eerlik: in dié wêreld sal julle verdrukking kry. Een vertaling van die Bybel stel dit mooi: “In dié wêreld sal julle dit moeilik hê.” En hoe moeilik word dinge nie soms nie...

Ons kan egter kies of ons die uitdagings sal toelaat om ons te verpletter en verpletterd te hou. En of ons die verplettering sien as ‘n geleentheid om iets omtrent onsself te leer. Dit teen die lig te hou en te kyk hoe dít van jou ‘n beter, sterker, mooier mens kan maak.

Ons kies of ons gaan bly lê en ons kies of ons gaan opstaan. Ons kies dapperheid, of ons kies vrees. Ons kies resilience, of ons kies die hasepad.

Huil as jy moet. Erken die seer en noem bitterheid op sy naam. Sit met jouself en voel, voel regtig diep om die omvang van jou wond te bepaal... dan kies jy Jakobus 1 en ag dit loutere vreugde as beproewings oor jou pad kom, “want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard...”

Dalk is dit ‘n heel ander jy, ‘n beter jy, aan die anderkant van jou seer. Maar net as jý resilience kies..

Comments

Popular Posts